Skrywers

Nuusbrief

Lys produkte van dieselfde skrywer Eben van Renen

Eben van Renen is gebore in die Melkweg sterrestelsel, aan die suidpunt van die Afrika vasteland. Hy het vinnig geleer om sy Afrikaanse en Engelse klasse op skool te gebruik as lanseerbane vir avonture in ander dele, en tye, van die heelal.

Soms was sy aardse opsigters uiters besorgd gewees oor sy skielike afwesighede, maar Eben het gou geleer om sy ontsnappings minder opsigtelik te maak deur sy kop elke nou en dan te knik en ‘hmm’ en ‘aha’ geluide te maak, terwyl hy in werklikheid vyf eeue in die toekoms besig was om sy ruimtevegter te inspekteer (gewoonlik in die Arwantynse of Makwaro sterrestelsels!). Die natuur, sy skilderkuns en sy beroep as onderwyser maak dit darem makliker vir hom om elke dan en wan in die 21ste eeu op Terra te oorleef.

Hy besluit later om van sy avonture neer te pen, al is dit ʼn oortreding van Wannebenglish Imperiale Ordinansie 38.4 wat beveel dat “geen Afrikaanse Wetenskapfiksie of Fantasie ooit vir mense ouer as 10 jaar gedruk mag word nie.” Hy is tans op vrye voet êrens in die koue noordelike dele van Noord-Amerika. Sy redenasie is dat dit die laaste plek is waar die vyand hom sal opspoor. Een van sy vriende is van mening dat die bloed van die Kaapse Rebel nog sterk in sy are klop.

Op ʼn meer ernstige noot: Eben erken dat hy vir ʼn tydperk in sy lewe skaam was vir sy eie taal en kultuur. Hy kon nie een sin in Afrikaans uiter sonder om ten minste twee Engelse woorde in te sluit nie. Gelukkig het hy in die buiteland gaan woon en gou agtergekom dat hierdie houding eienaardig en onvanpas is vir iemand wat kwansuis lief is vir diversiteit. Hoe verduidelik jy dan nou aan iemand dat jy ál die geure en kleure van die mensdom kan waardeer en geniet, maar sélf kan of wil jy niks unieks bydra tot hierdie diversiteit nie? Daarna het hy een van die min Afrikaners geword wie se Afrikaans in die buiteland verbeter het.

Toekennings en publikasies

2011 Wenner van die Thompson Toekenning (Fantasie vir Volwassens) met die verhaal getiteld “Roehyn en die Siener”

Junie 2012: Artikel gepubliseer in savryskutskrywer.co.za se eerste uitgawe (titel: “So jy wil Afrikaanse wetenskapfiksie of fantasieverhale skryf?”

2012 Wenner van die Thompson Toekenning (Beide die WF en F katagorieë) met die onderskeidelike verhale getiteld “Bewaker 47: Melkobosstrand” en “Die Skoonmaker en die Elfies”.

Meer