Kategorieë
Nuusbrief
Gerhardus Thompson, samesteller van hierdie woordeboek, is gebore in Potchefstroom, waar hy sy skoolloopbaan voltooi, asook sy verdere studies. Hy studeer aan die Potchefstroomse onderwys kollege en in hierdie tyd raak hy betrokke by die baie bekende en gewilde revue groep van die kollege, Pootnote.
Hy begin sy onderwysloopbaan in Rustenburg. Hierna verhuis hy na Kriel waar hy by die Hoërskool Kriel skoolgee en hokkie afrig. Na ‘n paar jaar besluit hy om Suid-Afrika vir Taiwan te verruil en dis dan ook hier in Taiwan waar hy sy toekomsitige vrou en mede-samesteller van hierdie woordeboek, Beatrix (Van Dyk) Thompson ontmoet.
Beatrix is ‘n gebore Namakwalander wat in die dorpie, Nababeep, gebore is en daarna haar skoolloopbaan in Kamieskroon voortsit en in Vanrhynsdorp matrikuleer. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, behaal ‘n BA graad met Geografie en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. Na haar graad voltooi sy ook haar Hoër Onderwys Diploma.
Na slegs een jaar in Taiwan kry Gerhardus ‘n posaanbieding vanuit Folkestone, Kent in Engeland. Dis dan ook hier waar hulle hul in die huwelik bevestig en ‘n sertifikaat behaal om Engels as ‘n vreemde taal aan te bied. Hulle keer terug na Taiwan waar hulle vir ‘n maatskappy werk wat in naskoolse klasse spesialiseer en behaal nog ‘n sertifikaat om Engels as ‘n vreemde taal aan te bied.
In 2004 aanvaar hulle poste by privaatskole en in 2008 behaal Gerhardus ook ‘n kuns diploma wat hy deeltyds deur ‘n Suid-Afrikaanse kollege studeer. Direk na die kunsdiploma neem sy honneurs studies in aanvang en in 2012 behaal hy sy honneursgraad in onderwys met lof, cum laude, deeltyds aan die Universiteit van Stellenbosch.
Dis tydens sy studies in die aande en klasgee deur die dag dat hy ook tyd maak om aan die omvattende woordeboek te begin werk. Die saamstel van die woordeboek neem hom 3 jaar en die uiteindelike voltooiing hiervan was die vervulling van ‘n groot droom.
Beatrix is ‘n reisjoernaalskrywer en die druk en uitgee van haar boeke is ook die verwesentliking van nog ‘n ideaal vir Gerhardus, en dis om ‘n boekdrukkery op die been te bring, Thompson boekdrukkers.
As span en hulle liefde vir Afrikaans as taal werk hulle daagliks daaraan om ander te inspirreer om ‘n liefde vir Afrikaans te kweek en te koester.
Volg ons